
Marthinus van Schalkwyk, voormalige minister van toerisme en eertydse premier van die Wes-Kaap, is Suid-Afrika se nuwe hoëkommissaris in Australië.
Die 59-jarige Van Schalkwyk, wat die laaste paar jaar Suid-Afrika se ambassadeur in Athene, Griekeland, was, het Dinsdag in Canberra, die Australiese hoofstad, sy geloofsbriewe aan sir Peter Cosgrove, dié land se goewerneur-generaal, oorhandig.
Van Schalkwyk, wat ambassadeur in Athene geword het nadat hy in 2014 in ’n kabinetskommeling deur oudpres. Jacob Zuma uit sy kabinet gelaat is, is deur pres. Cyril Ramaphosa gevra om die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris in Australië te word.
Hy het saam met Ramaphosa in Zuma se kabinet gedien.
Ambassadeurs na Statebondslande word hoëkommissarisse genoem.
Van Schalkwyk, die laaste leier van die eertydse Nuwe Nasionale Party (NNP) wat deel van die ANC geword het, het ook in die kabinet van oudpres. Thabo Mbeki gedien. Hy het ook as minister van omgewingsake gedien.