Ryno se boksloopbaan by kruispad in Duitsland

Die gewilde bokser Ryno Liebenberg se loopbaan kan Saterdagaand in Duitsland eindig.

Liebenberg boks in Ludwigsburg teen Vincent Feigenbutz, ’n Duitser wat 24 van sy 27 oorwinnings met uitklophoue behaal het.

Liebenberg het vroeër aangedui dat hy dit sou oorweeg om uit te tree indien hy teen die 22-jarige Feigenbutz verloor.

Die afgelope paar jaar het die 34-jarige Liebenberg ietwat wisselvallig vertoon.

Op sy beste kan hy egter die opkomende Duitser skok. Feigenbutz raak soms ’n bietjie wild en vergeet dat hy moet verdedig.

Hy is baie sterk en takel sy teenstanders ook af met harde haakhoue na die lyf.

Ter voorbereiding vir die geveg het Feigenbutz in die berge van Slowenië in ’n yshut geslaap.

Die geveg vind in die afdeling vir super-middelgewigte plaas. Liebenberg, wat gewoonlik as ligswaargewig veg, moes dus ’n paar kilogram afskud.