Sewentienjarige wenjaer van SA gaan nou roem soek in VSA

Op ’n ouderdom wat die meeste van sy vriende nog nie eens rybewyse het nie, het die jong Bloemfonteinse renjaer Stuart White (17) die afgelope naweek ’n tree nader daaraan gekom om ’n beroepsjaer in Amerika te word.

Stuart het die Suid-Afrikaanse Formule 1600-titel agter sy naam geskryf toe hy Saterdag op die Swartkop-baan buite Pretoria gewen het.

Die oorwinning beteken dat hy kwalifiseer om in Desember aan die Road to Indy-uitdunne in Arizona deel te neem, die eerste keer dat ’n renjaer van Afrika hiervoor kwalifiseer.

Die wenner van die Road to Indy-uitdunne sal ’n beurs van $200 000 (sowat R2,8 miljoen) kry om volgende jaar aan die USF2000-reeks deel te neem.

Renjaers wat sukses in die USF2000-reeks behaal, word opgepik deur spanne in die Indy Lights-reeks, wat op sy beurt die voerbron vir die topreeks, IndyCar (die VSA se weergawe van Formule Een), is.

Wenners van 20 kampioenskappe oor die wêreld heen, waarvan die Formule 1600 in Suid-Afr